Eenuur in die middag Eenuur in die middag by die Trattoria 'n tafel vir twee staan leeg sonder dat 'n kelner oor hom buig met sy skinkbord van Indiese rottang. Die raffiamatte het hulle weggeneem uit eerbied vir die gekneusde angelier, vir die dood wat swart blom uit elke gekneusde lit vir dié liefde, wat nooit 'n kans gehad het nie. Jy kan maar roep tussen een en twee by die tafel wat staan tussen die pilare van die Trattoria, die plek van verliefdes, wat uitkyk op die straat van die middag. Jy kan hulle maar roep op hul geboortename of hul troetelname. Jy kan hulle roep by elke etensuur tussen een en twee elke namiddag maar hulle sal jou nie antwoord nie. Nòg sal jy hulle sien verbystap met die kantoorwerkers, die hippies, die afleweringbodes of die paartjies wat hande vashou. By die stalletjies met tuisgemaakte erdewerk soek jy hulle verniet, en as jy dink jy sal hulle vind tussen die leeus en die renosters, die houtbeeldjies en die bontbeesvelskilde op die hoek by die Afrika-winkel, dan vergis jy jou, want jy sal hulle daar nie sien nie. By die Trattoria, eenuur in die middag, staan 'n leë tafel vir twee wat uitkyk op die stoep van die dag. By die tafel tussen die pilare die hoek van verliefdes, staan twee onbesette stoele en die herinnering is 'n verlepte angelier. N.A. Liebenberg 1944 Uit: De Afrikaanse poëzie in duizend en enige gedichten Gerrit Komrij 1999 Uitgeverij Bert Bakker Amsterdam
|