Gebed in die kombuis Meester, o Meester van my potte en my panne- Luister as ek saggies fluister: Ek is g’n heilige nie, want ek het g’n tyd nie om mooi dinge te dink en te doen en te sê en in die skemer te droom nie; Van bontstaan en raakvat is ek nat van die sweet, want my potte en my panne moet gereed wees as die eters wil eet. Nee, ek het nie tyd nie, want ek moet skottelgoed was en ek vrees my potte moet skoon, en my panne geskuur wees. Maar Meester, wyl die potdeksels tril en die panne sis, wil ek pleit dat U my omvorm om heilig te wees. U kan as U wil my mos seën met Martha se hande en Maria se wil, om U selfs hier met my hart en met my hande te dien. U sal begryp as ek met ‘n vadoek en kastrol in die hand, sê: Daar’s nie tyd nie om my oë te sluit nie, of as ek op my knieë met ‘n skroplap in die hande by U pleit om krag vir vandag en vir môre, want op die duur is dit U en nie ek nie wat vir my potte en panne, doeltreffend kan sôre. W A Hickey 1909 - 1989 |