Die huisvrou Die huisvrou loop deur die tuin met haar skêr: die lemme blits en knip. Dan dra sy die drag damaskusrose na die spoelkombuis, waar sy die broos rafelpunte van die stengels kneus, die vaatbundels tretter en versteur en alles in ‘n erdebeker skik. Tussen spykers ingedruk, geruk uit hul vertroude lig en landskap, wortelloos, die vloei van hulle sap belemmer, kwyn hulle weg in ballingskap. Sy neem die heel blomkoolkop. Haar mes gly deur die parenchiem van stronk, blom-aggregaat en steel. Sy dissekteer die weefsel, verdeel die wit, verwikkelde infloressensie in dwergboompies waarmee sy speel ‘n oomblik lank, half ingedagte, voor sy die lewe in hulle blus met water van honderd grade Celsius. Sy neem die vis en kap sy stert af, smak dit op die droogplank neer: ‘n fyngeribde, silwer waaiertjie. Dan kap haar kapmes die kop af en krap dit opsy: kru afvalstof. Die dooie oog is soos ‘n muntstuk dof. Sy blik bly strak op haar gerig vanuit die koue bladaluminiumgesig. Sy neem die hartjie van die lammertjie en kloof dit oop: linker- en regter- hartkamers lê voor haar oog ontbloot, weerloos en onteer. Haar lem stoot teen tussenwande waar die slagaarbloed nog lig en dun soos rooi ink klewe. Met ‘n snel haal sny sy deur die verwese myterklep, soos ‘n chirurg bedrewe, terwyl daar êrens in haar wese, onsigbaar vir almal, sel met sel saamsmelt en splits tot nuwe lewe. Ina Rousseau 1926 - 2005 Versamelde gedigte 1954-1984 |