Ode aan die ui Ui glansende fles, uieblaar op uieblaar is jou skoonheid gevorm, kristallae het jou uitgebou en in die geheime donker aarde het jou buik rond geword van dou. Onder die aarde het die wonder gebeur en toe jou lomp groen stengel verskyn het, en jou blare gebore is soos swaarde in die groentetuin, het die aarde sy kragte saamgetrek om jou naakte deursigtigheid te wys, en soos die verre see Aphrodite se borste lig en ‘n magnolia naboots, het die aarde jou gemaak, ui, helder soos ‘n planeet, en bestem om te skyn, konstante konstellasie, ronde roos van water, op die tafel van arm mense. Gulhartig gee jy jou bol van varsheid op in vurige voldoening aan die kookpot, en die kristalring word in die vlammende hitte vervorm tot ‘n gekrulde goue veer. Weer onthou ek hoe vrugbaar jou invloed is op die liefde van die slaai en dit lyk of die lug bydra om jou die fyn vorm van hael te gee en jou gekapte helderheid te vier op die rondheid van ‘n tamatie. Maar binne bereik van die mense se hande, besprinkel met olie, bepoeier met ‘n knippie sout stil jy die honger van arbeiders op die harde pad. Ster van die armes, towertante toegedraai in delikate papier, staan jy op uit die grond, ewig, ongeskonde, suiwer soos die saad van ‘n ster, en terwyl jy opgekap word, sal die kombuismes ‘n enkele traan voortbring sonder pyn. Jy laat ons huil maar maak nie seer nie. Ek het alles wat bestaan gevier, ui, maar vir my is jy pragtiger as ‘n voël met glansende vere, in my oë is jy ‘n hemelse bol, ‘n platina beker, ‘n onbeweeglike dans van ‘n sneeubedekte anemoon en die geur van die aarde leef in jou kristal-wese. Pablo Neruda 1904 - 1973 Uit Spaans vertaal deur Philippus Arnoldus de Waal Venter 1942 |